Die kerklike jaar het weer verander. Sedert Sondag 27 November is ons in Advent, wat van die Latyn “Adventus” kom, wat “koms” beteken.

Dit is ’n vreemde, dog opwindende tyd in die kerkjaar. ’n Tydperk wat na die toekoms en die verlede kyk deur een lens.

Ons dink terug aan die belofte van Immanuel. God is met ons, op die weg, aan die koms; maar was ook reeds daar, het klaar gely en gesterf, opgevaar en belowe dat Hy weer sal kom – ’n toekomstige eskatologiese verwagting.

Advent handel uit die verlede die toekoms in en span ons gedagtes nie net na die Kerstyd nie, maar ook na ’n tyd van hoop, ’n tyd van vrede, vreugde – wat dan uitspeel op die liefde.

Dieselfde gedagte wat sigbaar is in die Advent-krans: Mag dié tyd in die kerkjaar ons aanspoor om weer te onthou, daardie nag in Betlehem toe ’n vrou geboorte gegee het aan ’n seun – die Lig. En die afwagting op die Lig se terugkeer.

So in ons tyd saam met familie, vriende en geliefdes moet ons gedagtes draai, nie net na die belofte van God se koms nie, maar na sy werk deur die jaar – die oomblikke van hoop, die tye van vrede, die klein vreugdes wat ons gehad het en die onophoudelike liefde wat ons by die Vader kry.

’n Liefde wat iets laat weerklink van die koms van Immanuel en verder versterk word met sy koms in die Kerstyd.

My hoop is dat ons met ons familie en vriende die hoop wat God vir ons openbaar in die tyd van vrede sal oordink sodat ons nie net die vreugde en wonder van Kersfees kan ervaar nie, maar ook God se liefde vir sy skepping.



Ds. Domonic Basson, NG kerk St Helena

You need to be Logged In to leave a comment.