Hoe nader ’n mens aan die einde van die jaar kom, hoe besiger raak dit. Almal jaag om hul werk en verpligtinge af te handel.
In die laaste paar dae van die jaar moet ons juis ons tyd neem, rustig raak, die laaste oomblikke van 2024 saam geniet en na die belofte van Advent uitsien.
Die wêreld heen, is gelowiges besig om reg te maak vir Kersdag, ’n dag so kardinaal belangrik vir ons geloof.
Die dag van ons Heer, die dag van sy verskyning en koms, juis dit waarna ou Israel die eeue heen ook na uitgesien het.
Die wonder van Advent is nie net die viering van die koms van ons Here nie, maar dat dit een van die min seisoene in die kerkjaar is wat ons so na aan mekaar bring.
Deur die jaar het ons dalk meningsverskille gehad, saam getreur en saam gelag, saam gebid en gegroet by ’n graf, saam aan mekaar gedink en saam gesing of dalk ook saam baklei, maar ondanks daarvan word ons verenig in die viering van die Adventus – die tydperk van hoop, vrede, vreugde en liefde, die tyd waarin ons uitsien na Hom wat aan die kom is.
Advent is juis die tydperk dat ons nader aan mekaar bring, hetsy as geliefdes en vriende of selfs kollegas, daar is ’n universele besef dat daar iets groter as onsself is, iets wat ons saam bind deur sy goedheid en guns, deur die jare het ons Hom leer ken as Here, Verlosser, Trooster, Kyrie . . . maar nou roep ons saam: Veni, veni Emmanuel, Captivum Solve Israel.
) Ds. Domonic Basson is van die NG kerk St Helena.