Matjhabeng se buitensporige eiendomsbelasting gaan aangepas word, en belastingbetalers sal terugbetaal word.
Dié ooreenkoms is bereik ten tyde van ’n historiese vergadering waarop ’n skikkingsakte onderteken is wat die nuwe tariewe bepaal.
Verbruikers wat meer as die ooreengekome tariewe gehef is, sal krediet ontvang nadat die aanpassingsbegroting in Januarie 2022 goedgekeur word.
Parlementslid Thanduxolo Khalipha en die leierskap van die Matjhabeng-munisipaliteit het Vrydag (12/11) met verteenwoordigers van die Matjhabeng-gemeenskapsforum, die Welkom-besigheidsforum, Kerke in Aksie, AfriForum Welkom en die Matjhabeng-belastingbetalersvereniging vergader.
Die ooreenkoms om tariewe en belasting aan te pas kom ná geskille teen die munisipaliteit se nuwe evalueringsrol aanhangig gemaak is.Khalipha het die vergadering verwelkom as ’n eerste stap om verandering in Matjhabeng te bring.
“Daar gaan ’n vennootskap met die sakesektor en die gemeenskap wees om die munisipaliteit vorentoe te neem,” het hy gesê.“Wat in Matjhabeng ontbreek het, is etiese en eerbare leierskap. Ons sal nie meer toelaat dat swak dienslewering, korrupsie en boewery regeer nie.”
Jakes Jooste, voorsitter van die Welkom-besigheidsforum, het gesê hulle is tevrede met die veld wat gewen is ná maande se lang onderhandelinge, wat op die vergadering uitgeloop het.“Ons, die sakelui en inwoners, sal die leierskap verantwoordbaar hou. Ons het baie sakelui in Matjhabeng verloor en ons kan nie bekostig om meer te verloor nie,” het hy gesê.
Marius Kemp, voorsitter van die Matjhabeng-gemeenskapsforum, het gesê die forum het ’n sterk standpunt teen korrupsie in die munisipaliteit ingeneem.“Die politici en leierskap moet weet dat die speel van speletjies met mense se lewe verby is. Ons sal diegene wat verantwoordelik is vir die misbruik van openbare geld in hul persoonlike hoedanigheid vervolg.”
Die leier van Kerke in Aksie, pastoor Eddie O’Neill, het beklemtoon dat alle betrokkenes weer vertroue moet bou.