Die eindstryd van die 23ste Odensia-aandreeks was met spanning belaai.
Piet Odendaal, hoof van die Laerskool Odensia, meen ondanks die negatiewe effek van die Covid-19-pandemie is daar altyd positiewe dinge om op te fokus en een daarvan is die Odensia-aandreeks.
Swaar reënweer het gedreig om die spel te kelder, maar ’n hoogs mededingende atmosfeer het opwinding verseker en goeie gees het tussen die spanne geheers.
Laerskole van Kroonstad, Bothaville, Bultfontein, Hennenman, Welkom, Riebeeckstad, Virginia en Odendaalsrus het aan vanjaar se Odensia-aandeeks deelgeneem.
Die eindstryde is op Donderdag 10 Maart by die Laerskool Odensia in Odendaalsrus gespeel.
In die o.13-wit-afdeling se bekereindstryd, tussen die Laerskool Bultfontein en die Laerskool Bothaville, het Bultfontein met 14 – 10 gewen.
In die o.13-geel-afdeling se bekereindstryd, tussen die Welkom-Volkskool en die Primêre Skool Naudeville, het Volkies met 14 – 0 gewen.
In die o.13-blou-afdeling se bekereindstryd, tussen die Laerskool Voluit van Virginia en die Laerskool Trio van Kroonstad, het Trio met 17 – 0 geseëvier.
Op die netbalbane was die opwinding ook groot.
In die o.13-wit-afdeling se bekereindstryd, tussen die Laerskool Bothaville en die Welkom Preparatory School, het Bothaville met 11 – 3 gewen.
In die o.13-geel-afdeling se bekereindstryd, tussen die Primêre Skool Naudeville en die Welkom-Volkskool, het Volkies met 27 – 2 gewen.
Met die laaste netbalwedstryd vir die aand het die Laerskool Trio teen die Laerskool Voluit in die o.13-blou-afdeling se bekereindstryd gespeel. Trio het met 14 – 10 gewen.
- is die afgelope 23 jaar die hoofborg van hierdie belangrike sportmylpaal in jong spelers se lewe.