Die Vista-Odensia-aandreeks van 2023 was seker een van die opwindendste aandreekse in jare.

“Gewoonlik ontwrig reën ten minste een van die aande, maar vanjaar was dit nie die geval nie,” sê Piet Odendaal, die Laerskool Odensia se hoof.

Buiten die opwinding op die veld het ’n feestelike atmosfeer op die skoolterrein geheers, en Odendaal is dankbaar vir al die ondersteuning van ouers en die deelnemende skole.

Sedert die eerste dag van die reeks het die rugby- en netbal­spanne uitstekende spel gelewer.

“Toeskouers is trakteer op opwindende en gehalte-rugby en -netbal. Daar is in die eindstryde baie goed gespeel,” sê Odendaal.

Die lae tellings van die beker-eindstryd het die gehalte van die wedstryde weerspieël.

“Danksy al die reën die afgelope tyd was die rugbyveld in ’n uitstekende toestand en het die spelers die sagte speeloppervlak baie geniet,” meen Odendaal.

Die aandreeks kan nie plaasvind sonder die getroue ondersteuning van die deelnemende skole, die ouers en die borge nie.

Odendaal is dankbaar vir elke skoolhoof se motivering en elke afrigter se moeite en opoffering om die kinders die geleentheid te gee om te kan deelneem.

“Julle maak ’n enorme verskil in ons kinders se lewe.”

Die skole wat sedert die eerste toernooi 24 jaar gelede on­onderbroke by die Odensia-aand­reeks betrokke was, is: die Welkom-Volkskool, Laerskool Nelsdrif, Laerskool Voluit (Virginia-Volkskool en Merriespruit saamgesmelt), Laerskool Hennenman, Laerskool Riebeeckstad, Laerskool Koppie Alleen, Brandwag-Volkskool, Laerskool Harmonie en die Aurora Primary School.

Odendaal sê in 2024 sal dit die 25ste keer wees dat die aandreeks aangebied word, en hy meen dit sal weer ’n spesiale geleentheid wees.

“Dit was vanjaar ’n suksesvolle Vista-Odensia-aandreeks, wat nie eens deur beurtkrag gestuit kon word nie.

“Nogmaals dankie aan almal wat ’n aandeel hierin gehad het,” sê Odendaal.

You need to be Logged In to leave a comment.