Water kennisgewing E.Coli waarskuwing
Die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit het ‘n waterwaarskuwing uitgereik nadat E.coli in die Dirksburg-reservoir by Virginia gevind is.

Die swaar reën, weidende beeste en wild, asook die swak onderhoud van infrastruktuur is heel waarskynlik die bron van die E.coli-besmetting in die Dirksburg-reservoir in Virginia.

Só sê Virginia se raadslid Hansie du Plessis.

Die inwoners van Virginia, Meloding, Kitty, Sibanye en Joel Myn is op Maandag 7 April gemaan dat die reservoir besmet is, en dat hulle tot verdere kennisgewing alle drinkwater moet kook.

Du Plessis sê daar is nie presiese sekerheid van die bron van die besmetting nie.

“Baie faktore kan bydra. As inwoners behoorlike stappe doen, en die drinkwater deeglik kook sal hulle veilig wees. Ek glo nie dit is riool besmetting van die stukkende rioolstelsel nie.

“Die besmetting kom voor in die reservoir en die reservoir is bokant die rioollyne. Virginia se enigste waterbron is Allemanskraal-dam, ek glo nie dit kom van dam nie.

“Die water van die dam word na die reservoir gepomp.

“Ons kry nie ons water uit die Sandrivier, waar die rioolbesmetting is. Ek glo dit is die swaar reën en die wildslewe wat hierdie verskynsel veroorsaak het,” sê Du Plessis.

Christa Ikking, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek, sê hulle maan die Matjhabeng-munisipaliteit al lankal oor water, en nou is E. coli in die reservoir gevind.

“AfriForum het oor die afgelope paar maande herhaaldelik skrywes aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig en gewaarsku oor die agteruitgang van die waterinfrastruktuur, insluitend die

waterwerke, pompstasies en pyplyne.

“Ondanks hierdie waarskuwings, het die munisipaliteit die inwoners van Virginia, Meloding, Kitty, Sibanye en Joel Myn gemaan dat die Dirksburg-reservoir in Virginia met Escherichia coli (E. coli) besmet is.

“Die kennisgewing dat inwoners voorts voorsorg moet tref voordat hulle van die reservoir se water gebruik, is uiters teleurstellend, aangesien AfriForum al telkemale die munisipaliteit aangeraai het om die nodige voorsorg te tref om dié krisis te vermy.

“Dit is weereens ‘n bewys van die growwe wanbestuur van die munisipaliteit se watervoorsieningstelsel, wat nou beduidende risiko’s vir openbare gesondheid inhou.”

“Dit is weereens ‘n bewys van die growwe wanbestuur van die munisipaliteit se watervoorsieningstelsel, wat nou beduidende risiko’s vir openbare gesondheid inhou.”

Ikking sê die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg uitdruklik elke persoon se reg op toegang tot voldoende water en verplig munisipaliteite om dienslewering, insluitend toegang tot skoon en veilige drinkwater, op ‘n volhoubare manier te verseker.

“Die teenwoordigheid van E. coli in die watervoorsieningstelsel is boonop ‘n duidelike oortreding van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard wat streng vereistes vir waterkwaliteit uiteensit.

“Hierdie mislukking stel nie net inwoners in gevaar nie, maar verontagsaam ook die munisipaliteit se grondwetlike en statutêre verpligtinge.”

Ikking sê die aanhoudende watergehaltekwessies in Matjhabeng is ‘n direkte gevolg van wanbestuur en is dus nie net onaanvaarbaar nie, maar ook onwettig.

AfriForum eis ‘n remediërende plan en versoek die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit om nie net dringend stappe te doen om hierdie krisis reg te stel en veilige drinkwater te verseker nie, maar om ook die sistemiese mislukkings aan te pak wat tot hierdie skending van inwoners se regte gelei het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 7 August 2025
    Vista E-Edition 2 August 2025